Swanesang

Morning Star, Durbanville

die ster wat ek volg
volg tot sonopkoms

ek verstaan beter as wat jy dink
soort soek soort
net die braafste dwase spring oorboord
tyd leen sy wysheid
aan wie geduldig wag
die nag wys sy geheime
vir die wie se oë
aan kan pas

soepel en sag
aan die buitekant
maar daar's 'n diamant
waar jou hart moet wees
my skat

hierdie stad het jou by my gesteel
ek hoop die waarheid
kom by jou uit
om as orgaan te funksioneer
is gewoonlik onmoontlik
vir 'n edelsteen

die N1 se stippellyn
die half geboude brue
vlieg by my kop verby
dis vanaand vir nou
iemand sal begrafnis hou

skemers op strande
vakansiegangers
die krag kan maar afgaan
jy skyn tog helder
jou rykdom begrawe
tussen longe en are

foute maak al maak dit seer
sweer dat ek sal aandag gee

Heiden Heiland

Heiden Heiland
'n klapsoen het my onkant gevang
my lewer mis ons tye saam
'n neofiet van neongeaard

verdierlik losbandig
nadoodse ondersoek
sou bepaal
vals hoop
vals tande
vals hart

vermy vir my
vermy vir my

in 'n monochroom diskoteek
het ek my een voet in die graf gesteek
die troukoors is so dik dis tasbaar
dit laat my nekhare rys

jy wil nie
nie nou nie
ek wil jou ys breek
maar jou water wil nie stol nie

"jy was 'n kind
en al die helder wete
van bloed en maagdelikheid
was eenmaal in jou oë" *

onbevlek en half bewusteloos
vergewe my
my doodgeid
maar al die ouens lyk halfskeef hier
ek wil nie op die dansbaan broeknaai nie

my lotus my roos
my vingers sny
deur jou dorings
ek wil jou seermaak
en ek wil seerkry

vermy vir my
vermy vir my

'n meteoriese reis
na die noorderlig
'n valskerm vir ingeval ons spring
dis ver en ons tuig is aanmekaar geslaan
lukraak
aanmekaar geslaan

ek wil nie
uitbrand nie
jy't op my gemors
en nie jammer gesê nie
en ek was 'n kind
en al die helder wete
van bloed en maagdelikheid
bly eenmaal in my oë

ek soek myself
het jy hom dalk gesien?
hy's 'n paar jaar jonger
en sy hare is korter
hy dink nie dat daar iemand is
wat hom agtervolg nie.

jy ken my nie vir lank nie
daar is nog niks
wat jy verkeerd kon doen nie
ek bly 'n kind en al die helder wete
van bloed en maagdelikheid bly
altyd in my oë

* NP van Wyk Louw

Swanesang

die plafon bereik
die laaste toneel
van die eerste bedryf
deurlopende verdowing
wanorde en deurmekaar gesigte
dis al tradisie vir my

die oop pad
het sy tol geëis
om vinniger daar te kom
sal jy vinniger moet ry
om vinniger te lewe
maak jou vinniger dood

windgat
nikswerd

selfvoldaan verwerp
slagoffer van jou eie verbeelding
die droom het 'n nagmerrie geword
skuldig bevind
morele verkragting

10111
my brein krimp
en my hande vibreer
ligsku
en besig om te dehidreer
gistraand het 'n aborsie geraak
'n wettige verwydering
van potensiaal
my innige simpatie
goddank vir klank

windgat
nikswerd

Bel Vir Middelvinger

ons kan halfies gaan
langs Tafelberg af ry
terwyl die son sak
doen dit nou
en ons kan kyk wat gebeur
sal in elk geval
die geld wat ek het spandeer

'n doodloop aand
van 'n doodloop maand
van 'n baie onbesonderse jaar
my duiwels sal selfsugtig
by my waak
'n vliegtuig verlaat Kaapstad Internasionaal

los dit vir later
'n plan B
jy weet hoe dit werk
enige oomblik kan een van ons vrek
wat jy begin het moet klaar
iemand word altyd in die steek gelaat

dit raak erger voor dit gesond kan raak dis jy
jy het hulle hier ingelaat
my duiwels sal nou snoesig
by my slaap
ek lê oop oë
doodstil en wag
vir 'n kans om te ontsnap
om werklik gered te word
moet jy eers op die rand staan

ek is nie 'n welsyn saak nie
dit mag dalk so lyk
hoe konstruktief is negatiewiteit
wat het ek bereik?
my toekoms ruineer
om my hedendaag te preserveer

Vasbeslote Korporasie (Deel 1)

dink internasionaal
dink globaal
tree op lokaal
'n skaap skree wolf
en al die skape glo hom

my lewe maak sy voordeur toe
en los die balkon skuifdeur oop
vir jou om by af te spring
vir jou om by uit te spring
geld is god
prys alles
prys hom
here help ons

help seker nie
daar was niks wat menslik is
van ons verwag nie

met 'n kop vol suur
probeer ek voel of iets

dit hael op my
op my onderbewussyn
al wat ek voel is siek
al wat ek voel is siek
geld is god
prys alles
prys hom
here help ons

vrou huil in geheim
soms voor goeie vriendinne
besigheid verloop
al gaan hoof van departement dood

ek droom
dis al wat deesdae werklik is

'n mens sou hoop
dat die geskrywery
kan een bring tot
dieper insig
dieper water
stiller grond

ek vat myself vir 'n doos
as ek saam met jou is

eintlik wil ek net huis toe gaan
hierdie mense ken my nie

Prioritiseer

salueer die vurige moedeloosheid
die klank van skynbare identiteit
[jou slagspreuk hier]
onverskillig van formaat
waarskynlik nagemaak

prioriteit no. 01
kom lewendig hier uit
jou merke sal getuig

harsings by my skedel uitgesuig
'n ritueel
'n fees
om my id op te offer
vir almal wat wil leef
tap die vatte leeg
die houer
het sy gees gegee

prioriteit no. 01
kom lewendig hier uit
jou merke sal getuig
van 'n toomlose leefstyl
wees bly jy's vry
jy's gefok
so nou fok jy ons
jou merke sal getuig
van 'n aktiewe wanhopigheid
jy's gefok
en nou fok jy ons

al lê my gemoedstoestand so blou
sal ek altyd die berge kan onthou
die poel water weerkaats
die flitse die riete
die beloftes van liefde
wat die wolke geheim hou
maar verklap in uitbarstings
ons hande raak skaars
maar dit dien as geleier

Vir Altyd 07 November

al jou vriende sê vir my
dat jy baie teleurgesteld sou gewees het in my
ek kan jou nie so goed soos wat ek wil
onthou nie
maar dit voel nou asof jy
'n bietjie beter na my kyk

jy't net soveel gedrink
en ook jou hele lewe lank
probeer weg hardloop
ek weet nie hoe jy as kind was nie

jy't ook elke aand uitgegaan
ek het geweet dit gaan gebeur
ek het geweet dit gaan gebeur
al die geskreëery
was toe verniet gewees
ek het jou vergewe
en jy
jy vir my

ek sien jou in meisies raak
en dan gaan soek ek jou daar
ek weet dis fokken simpel van my

soos 'n baarmoeder
dun gesmeer
oor elke wegkruip plek
en trappie van my sosiale leer

als van jou wat in my gis
gee my hoendervleis
as dit November is
dis al wat ek wil sê
dis al wat ek kan sê

Ek Skyn (Heilig)

te vinnig te veel
ek sal al my beloftes breek
as jy my net 'n kans kan gee
wie sal vir my liefde maak
wie sal vir my liefde maak
as die somer so lekker is
hoekom voel ek so fukt

ek skyn
ek skyn heilig
onder die straatlig
onder die maanlig
sê vir my as die rewolusie verby is

geliefdes ons weet
'n hond sal altyd na sy braaksel toe terugkeer
moenie so verbaas wees nie
gooi net 'n bietjie vet op die vuur
twissiek en melankolies

ek skyn
ek skyn heilig
onder die straatlig
onder die maanlig
sê vir my as die rewolusie verby is

ek bly verveeld
en my bene is seer
ek staan voor jou deur
en my kop klop

genade onbeskryflik groot
ek is die hel in
bibber en beef die boerebedrieër
die wêreld sal jou haat my seun
as jy die waarheid praat
gaan hulle jou wil doodmaak

Brand Suid-Afrika

vir jou is daar nog messe wat wag
in die bosse buite jou huis in die nag

ons sal mos veilig wees
ons sal mos veilig wees
ons hou ons gewetens skoon
ons sluit toe die deur

ons het petrol gevat
en ons het al ons brûe afgebrand
voordat ons aan die anderkant was

en ek besef nou
en ek besef nou eers

bloed en yster
bloed en grond
bloed en olie
bloed en grond
bang en lui en desperaat
daar's niks nuuts onder die son nie
en in die skaduwee
brand Suid-Afrika

wat weet ek van eerlik wees
my gewete syfer deur
my wakker lewe is hierdie ou man se geheue

en ek besef nou
en ek besef nou eers

bloed en yster
bloed en grond
bloed en olie
bloed en grond
bang en lui en desperaat
daar's niks nuuts onder die son nie
en in die skaduwee
brand Suid-Afrika

en ek besef nou
en ek besef nou eers
die Ossewabrandwag
het gisteraand die munisipaliteit opgeblaas.

bloed en yster
bloed en grond
bloed en olie
bloed en grond
bang en lui en desperaat
daar's niks nuuts onder die son nie
en in die skaduwee
brand Suid-Afrika

en ons vir jou

landmyne van skuldgevoelens
in 'n eenman-konsentrasiekamp
jy kla oor die toestand van ons land
wel fokken doen iets daaromtrent
brand Suid-Afrika

Backstage (As Daar Een Is)

na 2 uur
kan niks goeds gebeur nie
mens kan altyd 'n verskoning kry
jouself uitstal in die dieretuin
dis net nog 'n manier om jonk te bly
'n onbekende steek sy oop hand uit
om my stelselmatig
die verderf in te lei

kom saam met my
my wenkbrou buig skepties
kom saam met my
neem deel aan my dekonstruksie

aanvanklik
onafhanklik
mens kan altyd 'n gewoonte kry
jouself besig hou intussen tyd
'n geween en 'n gekners
'n konstante gekerm
ek ken die plek
die baas is 'n vriend van my
hy steek sy oop hand uit

my alledaagse nie-fiksie

Déjà Vu

reën val neer op bruin baksteen
dieselfde ding alweer
dans as die skote klap
'n deurgewerkte slet
gedurig oproerig

jy weet
jy weet jy's reg
wie is ek om te stry
konfrontasie te vermy
my een hand solank om jou nek te kry
wie is ek om te stry

druk jou ore toe
dieselfde ding alweer
permanente sirenes
die klankbaan van ons lewens
sit jou suurstofmasker aan
jou kop tussen jou bene

selde bevredig
maar dikwels tevrede
met die wonderlike waaglikheid
van ons oorlewing

dit was die moeite werd
net om jou gesig te sien

Vasbeslote Korporasie (Deel 2)

die hoofkantoor
'n ereksie wat skeur
deur die vuilwolk vlies
van die horisonlyn
die maatskappy is lief vir my

sonder voorbehoedmiddel
penetreer die sade van gulsigheid
multinasionale besigheid
die nuwe oorsprong van waarheid

ek wil uitverkoop
rock 'n Roll
wat ookal
miskien sal die koerante
'n artikel daaroor skryf
ek vertrou in die status quo

dit was my plesier
regstellende aksie pla my nie
ek sal my eie manier kry
inboorling of indringer spesie
ek vertrou nie mense nie
ek druk my kardeur knoppie af
as ek voor die verkeerslig wag

ek's nie paranoies nie
miskien net 'n klein bietjie