Monoloog In Stereo

Oop Vir Misinterpretasie

net die skoon word vermoor
net die sag kry seer
net die jonk glo
soos wat net die jonk van hart kan glo

elke jaar gaan vinniger verby
daar is geen konstantes nie
my ideaal is net 'n skadu teen die muur

kunsmatig of nie
dis my kennis, my vuur
alhoewel mens nooit kan seker wees oor enige iets nie

my skoene is deur vroue slawe in die verre-ooste gemaak
dis nie my skuld nie
my korttermyn geheue verval
tersiêre opvoeding nietig verklaar
dis nie my skuld nie

net die skoon word vermoor
net die sag kry seer
net die jonk glo
soos wat net die jonk van hart kan glo

elke jaar gaan vinniger verby
moet nie bekommer nie
jou verbeelding spring jou voor
dit was nog altyd so

'n mens kan baie praat
tog sukkel om sin te maak
almal weet perspektief
is nie 'n speelding nie

my vriende se bediendes het hulle met liefde groot gemaak
dis nie my skuld nie
ek herinner myself aan my pa
hulle moes grens toe gaan
dis nie my skuld nie

net die skoon word vermoor
net die sag kry seer
net die jonk glo
soos wat net die jonk van hart kan glo

Ek Dink Aan Jou (As Dit Reën)

'n oomblik is die wêreld werd
maar net die eerste een
'n dier bly 'n dier

gaan slaap as jy sal beter raak
as jy aan die slaap kan raak
'n dier bly 'n dier

ek dink aan jou as dit reën

hierdie vier mure maak my naar
is jy siek of sit jy aan?
die lied in my hart is 'n swane sang

ek dink aan jou as dit reën

kwaad raak ons net vir mekaar
mans bly seuns
seuns wil mans wees

ek sweer daar's iemand wat in die hoek staan
as ek my oë knip is sy weg soos my kinderdae

ek dink aan jou as dit reën

ek is nie meer lief vir jou nie
ek kon jou nie gelukkig hou nie
beloftes breek
en styf vashou maak seer

kwaad raak ons net vir mekaar
mans bly seuns
seuns wil mans wees

deesdae vat dit langer
om mense te leer ken
is dit regtig nodig
om mense te leer ken

Die Illusie Van Veiligheid

goedkoop kitssatisfaksie
volgraan fase 4
mezzanine messias van die woonbuurt
ek is baie bly om jou te sien

opsoek na bewyse dat ek lewe
laatnag plesier
die res lag harder as ek
ek lag nie vir flou grappe nie
dis klaar te laat
luister julle nie?

ek voel asof ek met myself praat
en daar's geen pad vorentoe nie

so wat doen ons nou?
ons los ons ruite oop
en ons het nie diefwering nie

ek het familie wat nie bloed is nie
dit help nie veel vir hoe ek voel nie
jy's lui, jy's selfsugtig en jy luister nie

als wat jy kry moet jy
by die venster uit smyt
ons sal rond sit en raas
dieselfde wyshede herhaal
in 'n vuil sitkamer sukkel jy om te leef
sonder rigting is dit moeilik om jouself te wees

wat doen ons nou?
ons los ons ruite oop
en ons het nie diefwering nie

ek het familie wat nie bloed is nie
dit help nie veel vir hoe ek voel nie
jy's lui, jy's selfsugtig en jy luister nie

daar's niks wat ons keer nie
ons los ons ruite oop
en ons het nie diefwering nie

ek het familie wat nie bloed is nie
dit help nie veel vir hoe ek voel nie
jy's stadig en jy werk nie goed met ander nie

Wintersdag By Die Seer

skepe van eensaamheid sink
verdrink die dae van die week
die warm smart wat somer bring
sing
kriewelend, spasties, kruipend

ek is honger en my klere stink

jy skyn
welkomend, heilig basuin
jy jou lokvalle uit
as ek wou
sou ek my koers huis toe vind?

ek is honger en my klere stink

en die rooi branders breek
oor 'n swart strand van seer
en die wit lyne sny
reguit deur my

my dokter het vir my
pille voorgeskryf
dit hou my kalm
as omstandighede my bedreig
dit laat my droom
en ek was vir 'n lang ruk
siek gewees daarvoor

ek is dommer, maar ek lewe nog

en die rooi branders breek
oor 'n swart strand van seer
en die wit lyne sny
reguit deur my

Monoloog In Stereo

'n baie algemene mens
met baie algemene woorde
in 'n algemene huis
kweek algemene drome
'n dosis pynverdowers
op die ou einde van die dag
is dit seker maar
al wat jou gelukkig maak

en oor en oor
'n monoloog in stereo
op 'n mooi dag
soos vandag

ek wonder soms
soms wonder ek
die son skyn gelukkig
gelukkig skyn die son

'n baie standaard geesteskluis
waarin ek myself toesluit
die herlewing was toe net korttermyn
ek het by die agterdeur uitgegly
as jy voel jy moet dan moet jy

as daar soveel van ons is
hoekom sal enige iemand jou mis

Die Seksuele Revolusie

onskuld is 'n vrug
'n droë metafoor vir ouer raak
ek stap versigtig met 'n blinddoek op

dis baie mooi as twee jong mense soen
begeerte is 'n spieëlbeeld
omstandigheid 'n luuksheid van
gesonde verstand
dis dalk onplesierig
maar die roltrap moet jy trap

onskuld is 'n vrug
'n droë metafoor wat ouer raak
ek stap versigtig met 'n blinddoek op

ons kort 'n lyer
'n bedrieër om ons op te sweep
om vir ons rigting te kan gee
en al die kenners stem ooreen

jou eie graf moet jy seker
maar self grawe
jou eie doodskis jouself maak
jou eie toespraak by jou begrafnis praat

onskuld is 'n vrug
'n vrot metafoor vir ouer raak
ek stap versigtig met 'n blinddoek op

jou breinkind gaan jou doodmaak
en almal sal verstaan
hy is uit kadawers aanmekaar geslaan

onskuld is 'n vrug
'n droë metafoor wat ouer raak
ek stap versigtig met 'n blinddoek op